[af] LANG VERPLIGTE GEBED
OM EENMAAL IN ELKE VIER-EN-TWINTIG UUR GESÊ TE WORD
Wie ook wens om hierdie gebed te sê, laat hom opstaan en na God toe keer, en, terwyl hy op sy plek staan, laat hom na regs en na links kyk, asof hy die genade van sy God verwag, die Genadevolste, die Medelydende. Laat hom dan sê:
O U Wat die Here van alle name is en die Maker van die hemele! Ek smeek U by hulle Wat die Daerade van U onsigbare Wese is, die Mees Verhewe, die Alglorieryke, om van me gebed 'n vuur te maak wat die sluiers sal verbrand wat my van U prag uitgesluit het, en 'n lig wat my na die oseaan van U Teenwoordigheid sal lei.
Laat hom dan sy hande in smeking na God ophef - geseën en verhewe is Hy - en sê:
O U die Begeerte van die wêreld en die Geliefde van die nasies! U sien dat ek my na U toe rig, en, bevry van alle gehegtheid aan iemand behalwe U, vashou aan U koord, deur wie se beweging die hele skepping omgeroer is. Ek is U dienaar, o my Here, en die seun van U dienaar. Aanskou my, gereed staande om U wil en U begeerte te doen, en niks anders wensende as U welbehae nie. Ek smeek U by die Oseaan van U genade en die Dagster van U guns om met U dienaar te doen na U wil en bahae. By u mag wat ver bo alle melding en lof is! Wat ook al deur U geopenbaar is, is die begeerte van my hart en die beminde van my siel. O God, my God! Kyk nie na my verwagtinge en my dade nie, nee kyk liewer na U wil wat die hemele en die aarde omvat het. By U Allergrootste Naam, o U die Here van alle nasies! Ek het net begeer wat U begeer het, en bemin net wat U bemin.
Laat hom dan kniel, sy voorhoof na die grond buig, en sê:
Verhewe is U bo die beskrywing van iemand anders as Uself, en die begrip van wat ook al behalwe U.
Laat hom dan opstaan en sê:
Maak my gebed, o my Here, 'n fontein van lewende waters waarvan ek so lank mag lewe as wat U oppermag bly bestaan, en melding van U mag maak in elke wêreld van U wêrelde.
Laat hom weer eens sy hande in smeking ophef, en sê:
O U in afsondering van Wie harte en siele gesmelt het, en by die vuur van Wie se liefde die hele wêreld ontbrand het! Ek smeek U by U Naam waardeur U die hele skepping onderwerp het, om nie dit van my weg te hou wat by U is nie, o U Wat oor alle mense regeer! U sien, o my Here, hierdie vreemdeling hom haas na sy verhewenste tuiste onder die grense van U genade; en hierdie oortreder soek die oseaan van U vergifnis; en hierdie nederige een die voorhof van U heerlikheid; en hierdie arme skepsel die daeraad van U rykdom. Aan U is die gesag om te gebied wat U ook al wil. Ek getuig dat U geroem behoort te word in U werke, en gehoorsaam te word in U opdrae, en onbevange te bly in U gebod.
Laat hom dan sy hande ophef, en drie maal die Grootste Naam1 herhaal. Laat hom dan met hande rustende op die knieë neerbuig voor God - geseën en verhewe is Hy - en sê:
U sien, o my God, hoe my gees binne my ledemate en liggaamsdele opgewek is, in my verlange om U te aanbid, en in sy hunkering om U te onthou en U te loof; hoe dit getuig van dit waarvan die Tong van U Gebod getuig het in die koninkryk van U woorde en in die hemel van U kennis. In hierdie staat, o my Here, smeek ek U graag om alles wat by U is, sodat ek my armoede kan toon, en U mildheid en U rykdom mag verheerlik, en my magteloosheid mag bekend maak, en U krag en U mag openbaar.
Laat hom dan opstaan en sy hande twee maal in smeking ophef, en sê:
Daar is geen God behalwe U nie, die Almagtige, die Almilddadige. Daar is geen God behalwe U nie, die Verordenaar, sowel in die begin as aan die einde. O God, my God! U vergifnis het my verstout, en U genade het my gesterk, en U roepstem het my wakker gemaak, en U guns het my opgehef en my na U gelei. Wie anders is ek dan dat ek sou durf om by die hek van die stad van U nabyheid te staan, of my gesig te rig na die ligte wat skyn uit die hemel van U wil? U sien, o my Here, hierdie armsalige skepsel klop aan die deur van U guns, en hierdie vlugtige siel soek die rivier van die ewige lewe van die hande van U mildheid. Aan U kom toe die gesag te alle tye, o U Wat die Here van alle name is; en aan my kop toe die oorgawe en gewillige onderwerping aan U wil, o Skepper van die hemele!
Laat hom dan sy hande drie maal ophef, en sê:
Groter is God as elke groot een!
Laat hom dan kniel, sy kop na die grond buig en sê:
Te hoog is U vir die lof van diegene wat naby U is om na die hemel van U nabyheid te styg, of vir die voëls van die harte van hulle wat aan U toegewy is om die deur van U poort te bereik. Ek getuig dat U geheilig is bo alle eienskappe en heilig is bo alle name. Geen God is daar behalwe U nie, die Verhewenste, die Alglorieryke.
Laat hom dan gaan sit en sê:
Ek getuig van dit waarvan alle geskape dinge getuig het, en die Menigte in die hoogte, en die huisgenote van die allerhoogste Paradys, en bo hulle die Tong van Grootheid Self vanaf die alglorieryke Horison, dat U God is, dat daar geen God behalwe U is nie, en dat Hy Wat geopenbaar is die Verborge Geheim is, die Kosbare Simbool, deur Wie die letters W en S (Wees) verenig en saamgebind is. Ek getuig dat dit Hy is Wie se naam deur die Pen van die Allerhoogste neergeskryf is, en Wat in die Boeke van God vermeld is, die Heer van die Troon in die hoogte en onder op aarde.
Laat hom dan regop staan en sê:
O Here van alle wesens en die Besitter van alle sigbare en onsigbare dinge! U gewaar my trane en die sugte wat ek slaak, en hoor my kreune, en my weeklag, en die gejammer van my hart. By u mag! My oortredings het my teruggehou om U te nader; en my sondes het my ver van die voorhof van U heiligheid gehou. U liefde, o my Here, het my verryk, en afskeiding van U het my vernietig, en verheid van U het my verteer. Ek smeek U by U voetstappe in die wildernis, en by die woorde "Hier is Ek", wat U Uitverkorenes in hierdie ontsaglikheid geuit het, en by die adems van U Openbaring,en die sagte luggies van die Dagbreek van U Openbaarwording, om te beskik dat ek op U prag mag kyk, en onderhou wat ook al in U Boek is.
Laat hom dan die Grootste Naam drie maal herhaal, en neerbuig met hande op die knieë rustende, en së:
Lof sy aan U, o my God, dat U my gehelp het om U te onthou en U te loof, en Hom aan my bekend gemaak het Wat die Daeraad van U tekens is, en my voor U Heerskappy laat neerbuig het, en myself laat verootmoedig het voor U Godheid, en dit laat erken het wat deur die Tong van U grootheid uitgespreek is.
Laat hom dan opstaan en sê:
O God, my God! My rug is gebuig deur die las van my sondes, en my agtelosigheid het my vernietig. Elke keer wanneer ek oor my bose dade en U welwillendheid dink, smelt my hart binne-in my, en kook my bloed in my are. By U Prag, o U die Begeerte van die wêreld! Ek bloos om my gesig na U op te hef, en my verlangende hande is skaam om na die hemel van U mildheid uit te strek. U sien, o my God, hoe my trane my verhinder om U te onthou en U deugde te loof, o U die Here van die Troon in die hoogte en onder op die aarde! Ek smeek U by die tekens van U koninkryk en by die verborgenhede van U Heerskappy om met U bemindes te doen soos dit U mildheid betaam, o Here van alle wese, en U genade waardig is, o Koning van die gesiene en die ongesiene!
Laat hom dan die Grootste Naam drie maal herhaal, en kniel met sy voorhoof op die grond, en sê:
Lof sy aan U, o onse God, dat U dit op ons laat daal het wat ons na aan U trek, en ons van elke goeie dinge voorsien wat deur U in U Boeke en U Geskrifte laat daal is. Beskerm ons, ons smeekl U, o my Here, teen die menigtes van nuttelose inbeeldings en ydele verbeeldings. U, in der waarheid, is die Magtige, die Alwetende.
Laat hom dan sy hoof ophef, gaan sit, en sê:
Ek getuig, o my God, van dit waarvan U Verkorenes getuig het, en erken dit wat die huisgenote van die allerhoogste Paradys en diegene wat rondom U magtige Troon rondgedraai het, erken het. Die koninkryke van die aarde en hemel is die Uwe, o Here van die wêrelde!
en: #bpn1-393 (English translation)